Padreëls

Algemene Pligte van die Bestuurder of Ryer

Algemene pligte van die bestuurder/ryer

Niemand wat ’n voertuig op ’n openbare pad bestuur mag —

  • enige padverkeersteken of padreël ignoreer nie, tensy ’n verkeersbeampte hom of haar so beveel.
  • sodanige voertuig agteruit laat beweeg nie, tensy dit veilig gedoen kan word,
  • ’n ander voertuig nader volg as wat redelik is nie,
  • Hou ’n minimum volgafstand van 2 sekondes vir ligte motorvoertuie en motorfietse.
  • Hou ’n minimum volgafstand van 3 sekondes vir swaar motorvoertuie.
  • Onder ongunstige toestande soos reën, ’n gladde oppervlak, swak sigbaarheid of wanneer jy te naby gevolg word, moet die volgafstand vergroot word.
  • toelaat dat enige persoon, dier of voorwerp ’n posisie in of op sodanige voertuig beklee wat die bestuurder/ryer daarvan kan verhoed om volkome beheer oor die bewegings van die voertuig uit te oefen nie,
  • wanneer hy of sy sodanige voertuig bestuur of ry, toelaat dat enige persoon die stuur- of bedieningsmeganisme van die voertuig vashou of daarmee inmeng nie,
  • wanneer hy of sy sodanige voertuig bestuur of ry, ’n posisie inneem waarin hy of sy nie volkome beheer oor die voertuig het nie of nie ’n volle uitsig op die ryweg en die verkeer voor sodanige voertuig het nie.
  • toelaat dat sodanige voertuig onbewaak op sodanige pad bly staan sonder om die rem daarvan aan te sit of ’n ander metode toe te pas wat die voertuig doeltreffend sal verhoed om van die posisie waar dit gelaat is te beweeg nie,
  • indien sodanige voertuig geparkeer is of langs sodanige pad stilstaan, die voertuig uit daardie posisie wegry nie tensy hy of sy dit kan doen sonder om met bewegende verkeer wat uit enige rigting nader in te meng, en met veiligheid vir homself of haarself en ander,
  • versuim om onmiddellike en absolute voorrang te gee aan ’n voertuig wat ’n toestel of klok laat hoor nie.
  • toelaat dat enige deel van sy of haar liggaam buite sodanige voertuig uitsteek terwyl dit op sodanige pad in beweging is nie, behalwe met die doel om ’n handsein te gee,
  • toelaat dat enige persoon of dier die dak, enige trap of treeplank of enige ander plek bo-op ’n voertuig beklee terwyl sodanige voertuig in beweging is nie,
  • veroorsaak of toelaat dat die enjin daarvan so loop dat dit rook of dampe afgee wat nie afgegee sou word indien die enjin in goeie toestand was nie,
  • veroorsaak of toelaat dat die enjin daarvan loop terwyl die motorvoertuig stilstaan en onbewaak is nie,
  • nalatiglik of opsetlik enige petrol of ander vloeibare brandstof of enige olie of vet of ander vlambare of aanstootlike materiaal, as of ander afval, van watter aard ook al, vanaf sodanige voertuig op of langs sodanige pad neerlê nie, of
  • veroorsaak of toelaat dat die enjin daarvan loop terwyl petrol of ander vlambare brandstof in die brandstoftenk gelewer word nie.
  • ’n voertuig op ’n sypaadjie bestuur, trek of stoot nie.